Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Private Wealth

Back

Email Private Wealth

Media Centre
 

Gewoonlik is dit net beleggers in die effektemark wat hierdie deel van die begroting noukeurig ontleed om te bepaal hoe dit moontlik hulle beleggingstrategieë beïnvloed. Omdat Suid-Afrika gevaar loop dat sy kredietgradering tot benede beleggersgraad verlaag kan word, wat ’n belangrike deel van die poel van potensiële beleggers in Suid-Afrikaanse staatseffekte sal uitskakel en tot ’n styging in langtermynrentekoerse sal lei, het die besonderhede van die bestuur van die staatskuld egter wyer betekenis gekry.

Boonop het die rol van buitelandse beleggers in die finansiering van Suid-Afrika se leningsbehoeftes die afgelope paar jaar skerp toegeneem op ’n tydstip wat die belangstelling van internasionale beleggers in opkomende markte op ’n naaldpunt gebalanseer is. Hoewel die Nasionale Tesourie reeds vir baie jare versigtig is om nie te veel lenings in buitelandse geldeenhede aan te gaan nie vanweë die gepaardgaande valutarisiko (buitelandse lenings het in Januarie 2015 9% van staatskuld bedra vergeleke met ’n riglyn van 15%), het hy nie beheer oor buitelandse aankope van randgedenomineerde staatseffekte nie. Die feit is dat 36% van plaaslike staatseffekte tans deur nie-inwoners gehou word, vergeleke met net 13,8% in 2009.

Die regering verkies om na Suid-Afrika se netto staatskuld (bruto skuld minus die staat se kontantsaldo’s) eerder as die bruto syfer te verwys omdat dit ’n gunstiger prentjie skets. So meld die begroting byvoorbeeld dat Suid-Afrika se netto staatskuld na verwagting teen 2017/18 ’n hoogtepunt van 43,7% van BBP sal bereik (wat ’n voortgesette toename van 2,9 persentasiepunte vanaf die vlak van 40,8% aan die einde van 2014/15 impliseer). Indien voorsienings en voorwaardelike verpligtinge (hoofsaaklik waarborge wat aan openbare ondernemings soos Eskom verskaf is) in berekening gebring word, sal dit ’n verdere 13,6% van BBP by die 2017/18-skuldvlak voeg vir ’n totaal van 57,3%.

Die bruto staatskuld, wat meer as 48% van BBP beloop, is egter van meer belang vir beleggers omdat dit die bedrag is wat deurlopend in die effektemark herfinansier moet word. Al die kontant wat deur die staat gehou word, is in elk geval nie beskikbaar vir die finansiering van staatsuitgawes nie. Van die R182 miljard wat die staat aan die einde van 2014/15 in kontant by die Reserwebank en handelsbanke gehou het, is slegs R45 miljard vir finansieringsdoeleindes beskikbaar.

Die eerste prioriteit is om die vlak van die staatskuld relatief tot BBP te stabiliseer en die begroting doen belangrike stappe in hierdie rigting. Dit is egter nie voldoende nie en die vlak van die staatskuld sal op mediumtermyn daadwerklik verlaag moet word om ruimte vir moontlike toekomstige behoeftes te skep. Die eerste mikpunt behoort myns insiens ’n verlaging van 10 persentasiepunte te wees.

‘n Redelik pynlose manier om dit te bewerkstellig is deur enige styging in staatsinkomste in reaksie op ’n verbetering in ekonomiese groei in die komende jare vir skuldvermindering aan te wend in plaas van hoër besteding. Indien dit nie gebeur nie is verdere belastingverhogings onvermydelik.

Termynverloop van SA staatskuld

Dit is in hierdie stadium ook belangrik om op die termynverloop van Suid-Afrika se staatskuld te let (kyk die meegaande grafiek). Nadat staatseffekte ten bedrae van slegs R48 miljard in 2014/15 en R31 miljard in 2015/16 hulle uitkeerdatum bereik het, styg die bedrag tot R69 miljard in 2016/17 en R91 miljard in 2017/18, waarna dit vir etlike jare rondom hierdie vlak wissel.

Suid-Afrika se herfinansieringsbehoefte gaan dus in die volgende paar jaar dramaties toeneem en dit op ’n stadium wat die beskikbaarheid van kapitaal juis ingekort kan word deur stygende internasionale rentekoerse (hoewel ’n mens in gedagte moet hou dat die opbrengsgaping tussen effekte in opkomende markte en dié in ontwikkelde markte steeds gunstig sal wees).

Dit is dus belangrik dat die Nasionale Tesourie die herfinansieringsrisiko effektief moet bestuur. Sy voorgenome strategie om in die huidige betreklik gunstige klimaat meer te leen as wat nodig is en om korttermyneffekte met langtermyneffekte te vervang soos wat markomstandighede dit toelaat, is dus wys.

Maar hoe gemaak met die risiko van moontlike hoë verkope van plaaslike effekte deur buitelanders?

Gelukkig is daar twee faktore wat die impak van so ’n gebeurtenis sal versag. In die eerste plek sal ’n onttrekking van buitelandse kapitaal die wisselkoers van die rand negatief beïnvloed en ’n onmiddellike herprysing van Suid-Afrikaanse effekte tot gevolg hê, wat verdere verkope sal ontmoedig deur die waardeproposisie gunstig te beïnvloed. In die tweede plek verleen die aanwesigheid van sterk binnelandse finansiële instellings die nodige diepte aan die Suid-Afrikaanse effektemark om buitelandse verkope te absorbeer en die gevolglike opwaartse druk op langtermynrentekoerse te demp.

Dit is dus nie nodig om paniekerig te raak oor Suid-Afrika se staatskuld nie. Die bestuur daarvan is in goeie hande. Die kritieke kwessie is hoe die uitgawekant van die begroting in die toekoms gaan verloop - hopelik sal gesonde verstand seëvier.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam