Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Private Wealth

Back

Email Private Wealth

Media Centre
 

Die titel van die artikel (“Radical economic transformation: towards synthesis and praxis”) plaas dit onmiskenbaar binne die verband van die sogenaamde “tweede fase van die nasionale demokratiese rewolusie”. ‘n Leser wat egter die artikel benader met die verwagting van ‘n rewolusionêre bespreking en slagspreukpolitiek sal teleurgesteld wees – trouens die artikel word gekenmerk deur ‘n realistiese en nugter evaluering van Suid-Afrika se huidige ekonomiese situasie en die uitdagings waarvoor dit staan, en die beperkings op beleidsopsies as gevolg van nie net die internasionale omgewing nie, maar ook plaaslike tekortkominge.

Die artikel voer redes aan ten gunste van ‘n pragmatiese eerder as ‘n ideologiese benadering van die soeke na oplossings vir Suid-Afrika se uitdagings. Volgens die skrywer kan die artikel beskou word as ‘n oproep “to break with old paradigms and dogma ̶ to navigate the turbulent global and national currents requires a unique mix of pragmatism, opportunism and innovation, while remaining true to our ideological commitment to restore social justice”.

Alhoewel mnr. Jonas ‘n sterk rol vir die staat in die ekonomie bepleit, erken hy ook die rol wat markte en die privaat sektor speel, selfs al is dit om pragmatiese eerder as ideologiese redes, byvoorbeeld, ‘n mens het steeds te kampe met die gebruiklike verwysings na “monopoliekapitaal”.

Ek moet erken dat ek self ‘n groot voorstander van pragmatisme is. Na my mening bevorder ideologie subjektiwiteit en veroorsaak dat mense siende blind is wat betref hul menings. Met ander woorde, ideologie is ‘n vereenvoudigingsmeganisme wat ‘n mens toelaat om nie te diep te dink oor die werklikheid waarvoor jy staan nie en om selektief met die feite om te gaan.

Volgens die ekonoom Douglass North, wenner van die Nobel-prys, “the subjective and incomplete processing of information plays a critical role in decision making. It accounts for ideology, based on subjective perceptions of reality, playing a major part in human beings’ choices. By ideology I mean the subjective perceptions (models, theories) all people possess to explain the world around them.” Hy sê verder dat “the theories individuals construct are colored by normative views of how the world should be organised”.

Die vyf verskillende begrippe van wat “radikale ekonomiese transformasie” beteken wat deur die skrywer geïdentifiseer is, getuig van North se siening, naamlik:

  • Die regering se amptelike siening soos weerspieël in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSR) vir 2014-2019 met snelle en inklusiewe groei as verklaarde doelwit, en nege geïdentifiseerde pilare van implementering
  • Arbeid (COSATU), met die klem op die bevordering van die belange van georganiseerde arbeid maar sonder ‘n groeistrategie om werkloosheid van swak geskoolde werkers op te los
  • Populistiese siening (EFF), met die klem op veranderde eienaarskapstrukture deur nasionalisering maar sonder enige idees om die ekonomie te ontwikkel en te groei
  • Hoofstroom-linksgesindes (SAKP) se siening, met die klem op die verbreking van die verbinding tussen die ekonomie en internasionale en finansiële kragte, en die afmaking van BBP-gemete ekonomiese groei as onbelangrik
  • Kreatiewe pragmatiste (bv. Joel Netshitenzhe) se siening, met die klem op die nodigheid om innoverende en pragmatiese ontwikkelingsoplossings aan te neem, en die wegbeweeg van vaste ideologiese posisies, byvoorbeeld deur die diversifikasie van Suid-Afrika se internasionale ekonomiese vennootskappe (met Afrika en BRICS wat ‘n belangrike rol speel) en die sluiting van ‘n maatskaplike verbond (moontlik deur ‘n “tweede Codesa”).

Dis is nie ‘n verrassing nie dat die regering se amptelike begrip die populistiese begrip verwerp of dat dit arbeid se siening as nie omvattend genoeg nie beskou. In die lig van die groot aantal kabinetslede wat ook lede van die SAKP is, is die regering se kritiese siening van die benadering van hoofstroom-linksgesindes en die beskrywing daarvan as “romanties” in verskeie opsigte, ietwat verbasend. Die regering sê reguit die SAKP se “notion of the GDP-myth is a distraction, and at worst feeds into an anti-growth logic that is potentially dangerous”.

Op stuk van sake is die regering se eie begrip die naaste aan die kreatiewe pragmatiste se begrip, alhoewel mnr. Jonas (én die SAKP) van mening is dat ‘n mens versigtig moet wees om nie die regering se vermoë te oorskat om die privaat sektor te beïnvloed om hom te help om die “progressiewe uitkomste” waarna hy streef, te help bereik nie.

Die pragmatisme van die regering se huidige ekonomiese beleidsfilosofie blyk duidelik uit verskeie kritiese waarnemings deur die skrywer.

Eerstens erken die artikel dat die multiklassamestelling van die regerende party beleidsteenstrydigheid en -verlamming tot gevolg het, met botsende menings oor prioriteite en hoe dit bereik moet word. Alhoewel die regering geneig is om openlik die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) te beklemtoon as die bloudruk waarvolgens hy optree, wys mnr. Jonas daarop dat die MTSR op ‘n kombinasie van die NOP, die Nuwe Groeipad, en die Nywerheidsbeleidsaksieplan gegrond is. Na sy mening het dit tot gevolg dat die MTSR “is not articulated as a clear strategy with the most highly prioritized and sequenced interventions, but rather as a smorgasbord of everything Government is doing in the economic space”.

Tweedens, soos deur mnr. Jonas uitgewys, is een van die hoofpunte van kritiek teen die NOP die feit dat dit nie voldoende aandag aan nywerheidsbeleid gee nie, terwyl nywerheidsbeleid die kern is van Suid-Afrika se pogings om vinnige en inklusiewe ekonomiese groei te bewerkstellig, die stuktuur van die ekonomie te verander, Suid-Afrika se afhanklikheid van kommoditeitsmarkte te verminder, groter produktiwiteit te bevorder en mededingendheid te verbeter. (Hoofstroom-ekonome is geneig om weg te skram van nywerheidsbeleid en dit af te maak as ’n poging van die staat om wenners te probeer kies, wat hy nie gekwalifiseer is om te doen nie. Deur dit te doen, loop hulle gevaar om ‘n kernaspek van bestaande ekonomiese beleid te ignoreer.)

Derdens word dit wat die regering kan bereik, beperk deur beleidsinstrumente wat tans beskikbaar is, die implementeringskapasiteit van die staat, en sy vermoë om besluitneming in die privaat sektor te beïnvloed. ‘n Mens moet dus realisties wees oor watter resultate op kort termyn haalbaar is.

Kortom, die privaat sektor sal by tye ongemak verduur weens ‘n aktivistiese regering wat vasbeslote is om sy doelwitte te bereik. Indien Suid-Afrika egter ‘n slim, bekwame, doeltreffende, entrepreneuriese, innoverende, nie-korrupte staat kan vorm, sal dit die moontlikhede van ‘n konstruktiewe vennootskap tussen die regering en die privaat sektor aansienlik verbeter.

Verwysings
African Communist. Number 188. 1st Quarter 2015.
Douglass C. North: Institutions, Institutional Change and Economic Performance. Cambridge University Press. 1990.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam