Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Private Wealth

Back

Email Private Wealth

Media Centre
 

Die idee dat dit net ‘n saak van verskille in individuele meriete is en dat groter welvaart oor die algemeen uit onafhanklike individuele pogings spruit, het in die oë van sommige mense onaanvaarbaar geword, met die besef dat individuele sukses gebou word op die prestasies van die verlede wat ‘n gesamentlike erfenis vorm. (Alle internetgebaseerde innovasies sou byvoorbeeld onmoontlik gewees het as die internet nie in die eerste plek ontwikkel is nie, met laasgenoemde wat die produk van innovasie in die openbare sektor is.)1

Die trae herstel in ekonomiese bedrywigheid ná die finansiële krisis en die uiteenlopende uitwerking daarvan op verskillende groepe in die gemeenskap het mense meer bewus gemaak van hierdie vermeende onregverdigheid, in so ‘n mate dat dit die middelpunt van politieke ekonomiese debat geword het.

‘n Algemene siening is dat globalisasie hoofsaaklik die skuld vir hierdie verwikkeling dra en dat militante nasionalisme (wat uitdrukking in weerstand teen immigrasie en in handelsproteksionisme vind) dus die oplossing vir die probleem is.

Christine Lagarde, die Besturende Direkteur van die IMF, sê dat alhoewel die vergoeding van kapitaal en hooggeskoolde arbeid gestyg het, die lone van laag- en mediumgeskoolde werkers gestagneer het. Die gevolglike groter ongelykheid en kommer oor die uitwerking van integrasie op ander aspekte van die lewe het aanleiding gegee tot vrae oor die voordele daarvan.2

Empiriese navorsing het egter herhaaldelik bevind dat globalisasie ‘n sekondêre rol by die afname in inklusiwiteit gespeel het ondanks die feit dat populistiese politici in veral ontwikkelde lande dit die skuld gee. Alhoewel die voorstel dat die wenners uit globalisasie die verloorders op een of ander manier moet vergoed, geldig is, het dit in elk geval te laat gekom om die algemene ontevredenheid op te los.

Die toenemende fokus op inklusiewe groei3 moet dus gesien word as ‘n reaksie op die groeiende ongelykheid van die afgelope drie dekades, omdat die meeste van die voordele van produktiwiteitsgroei die eienaars van kapitaal (insluitend individuele en institusionale beleggers) toegeval het soos weerspieël in werkers se kleiner wordende aandeel in nasionale inkomste, terwyl die verdeling van werkers se aandeel diegene wat tegnologies kundig is bevoordeel het.

Die algemene mening is dat tegnologiese vooruitgang oor die afgelope drie dekades die belangrikste bron van produktiwiteitsgroei was, veral in die vervaardigingsektor (outomatisasie, robotika, ens.). Douglas Irwin wys egter daarop dat die afname in werkgeleenthede in vervaardiging reeds in die sestigerjare ‘n aanvang geneem het.4

Volgens Lagarde is groei wat werk skep steeds ‘n voorvereiste vir groei wat volhoubaar is én algemene ekonomiese welvaart meebring. Maar om in ‘n era van snelle tegnologiese verandering en ekonomiese integrasie te verseker dat almal ‘n geleentheid het om voordeel uit groei en werkgeleenthede te trek, vereis ‘n aanpasbare werkmag. Opvoeding en vaardigheidsontwikkeling, insluitend deur ’n proses van lewenslange leer, moet ‘n prioriteit word.5

Hierdie is nie nuwe of revolusionêre insigte nie – trouens, die idee dat die voorsiening van universele openbare onderwys ‘n belangrike rol te speel het om opwaartse mobiliteit moontlik te maak, kan teruggevoer word na Adam Smith (1776), wat algemeen as die grondlegger van ekonomie as ‘n moderne vak beskou word. Hierdie idee is versterk deur ‘n ander sogenaamde voorstander van laissez-faire ekonomie, Friedrich von Hayek (1960). Smith sowel as Hayek verdedig onderwys as ‘n openbare plig, en hulle verstaan die rol van regulering wat betref die aanwakker van mededinging om ‘vertikale mobiliteit’ te verhoog.6

Bostaande kort oorsig van die uitdagings om groter insluiting te verkry, dien as ‘n waarskuwing dat wanneer ‘n mens na Suid-Afrika se soeke na inklusiewe groei kyk, jy versigtig moet wees om nie die probleem te vereenvoudig nie. Dit is nie ‘n kwessie van bloot die benutting van openbare verkryging om toetrede tot die hoofstroomekonomie vir ‘n uitgesoekte klompie te bewerkstellig nie. Dit is ook nie ‘n kwessie van die ontwikkeling van swart nyweraars nie – ‘n beleid waarvan die lewensvatbaarheid in elk geval twyfelagtig is in die lig van die impak van tegnologiese ontwikkeling se wêreldwye kragte op die vervaardigingsektor. En dit is ook nie ‘n kwessie van die transformasie van die finansiële sektor om vir voorheen uitgeslote mense makliker toegang tot kapitaal te gee nie.

Suid-Afrika se vermoë om wêreldwye tegnologiese ontwikkeling te verstaan en te hanteer, lê ten grondslag aan inklusiewe groei. Soos vroeër beklemtoon, sal onderwys en vaardigheidsontwikkeling wat nie die bestaande en toekomstige werkmag toerus om die tegnologieë van die toekoms suksesvol te benut nie, net die aantal onindiensneembares laat toeneem. En om nie indiensneembaar te wees is die mees ekstreme vorm van uitsluiting.

Die uitdaging vir Suid-Afrikaanse beleidvormers is om inklusiewe groei in operasionele terme te omskryf en parameters te identifiseer wat dit moontlik sal maak om vordering in dié verband te meet voordat die gepaste beleidsrigtings geformuleer kan word.



1 Mazzucato, M.: The Entrepreneurial State: Debunking Public vs. Private Myths. Anthem Press. 2013.
2 Lagarde, C.: The Managing Director’s Global Policy Agenda. A More Inclusive and Resilient Global Economy.
3 Die onlangse fokus op inklusiewe groei is nie werklik nuut nie maar volg op die lank bestaande debat oor groei wat spesifiek die lot van die armes verbeter en die verhouding tussen groei en ongelykheid.
4 Douglas A. Irwin: The False Promise of Protectionism. Foreign Affairs. May/June 2017.
5 Lagarde: ibid.
6 Leonidas Montes: Is Friedrich Hayek rowing Adam Smith’s boat? In Andrew Farrant (ed.): Hayek, Mill and the Liberal Tradition. Routledge. 2011.
Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam