Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Private Wealth

Back

Email Private Wealth

Media Centre
 

Dit is egter nie die volledige prentjie nie. In die eerste plek vergelyk Suid-Afrika ongunstig met sy portuurgroep. Opkomende markte en ontwikkelende lande se BBP per capita het gedurende dieselfde tydperk met gemiddeld 115% gestyg. Brasilië, Indië, Indonesië en Turkye het byvoorbeeld almal aansienlik beter as Suid-Afrika gevaar.

In die tweede plek het nie alle Suid-Afrikaners in gelyke mate in die toename in BBP per capita gedeel nie, soos aangetoon deur ‘n relatief hoë GINI-koëffisiënt van tussen 0,6 en 0,7, afhangend van hoe dit bereken word, en ‘n werkloosheidskoers van ongeveer 40% volgens die uitgebreide definisie.

Die primêre belangrikheid van hoër ekonomiese groei vir Suid-Afrika se toekoms, met die klem op die verband tussen groei en indiensneming om armoede te verlig, word toenemend oor ideologiese grense heen erken. Hoewel ekonomiese groei nie die antwoord op al Suid-Afrika se probleme is nie, is dit ondenkbaar dat grootskaalse werkloosheid sonder ‘n drastiese uitbreiding van die ekonomie opgelos kan word. Die meningsverskille gaan oor hoe om dit te bewerkstellig.

Die meegaande grafiek toon ‘n volgehoue versnelling in ekonomiese groei van 1994 tot 2007 behalwe vir die tydperk 1998 tot 2002 as gevolg van die destydse krisis in opkomende markte, die millenniumeffek en die wêreldwye ekonomiese verlangsaming vroeg in die vorige dekade. Die groeiversnelling het op ‘n internasionale insinking en ‘n redelik ernstige droogte in die vroeë negentigerjare gevolg en kan dus nie net aan die politieke oorgang in 1994 toegeskryf word nie.

Economic Growth 

 

Die belangrikste rede vir die verbetering in Suid-Afrika se groeiprestasie na 1994 is myns insiens te vinde in die opheffing van ekonomiese sanksies en die daaropvolgende herintegrasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie met die internasionale ekonomie. Hoewel die opheffing van handelsanksies belangrik was (die volume van uitvoere plus invoere het immers van met 65% toegeneem van 1991 tot 1998), met ‘n gepaardgaande verbetering in produktiwiteit as gevolg van verskerpte internasionale mededinging, is dit veral die opheffing van finansiële sanksies wat die kritieke verskil gemaak het.

Dit het meegebring dat Suid-Afrika vir die eerste keer sedert 1985 onbelemmerde toegang tot buitelandse kapitaal gehad het en dit gevolglik kon bekostig om ‘n tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans toe te laat. Terwyl die vyf jaar voor 1994 deur ‘n gedwonge oorskot op die lopende rekening van gemiddeld 1,6% van BBP gekenmerk is, het die daaropvolgende vyf jaar ‘n gemiddelde tekort van 1,2% opgelewer – ‘n ommeswaai van 2,8 persentasiepunte. Sedertdien het dit verder toegeneem en beloop dit tans meer as 6% van BBP.

Die tweede opvallende kenmerk van die ekonomie se groeiprestasie sedert 1994 was die volgehoue versnelling in investering deur die private sektor van 8% van BBP in 1992 tot 14% in 2008, waarna ‘n geringe afplatting tot 13% van BBP in reaksie op die resessie gevolg het – sien die meegaande grafiek. Dit toon dat die bewering van ‘n investeringstaking deur die private sektor nie geldig is nie. Die openbare sektor het eers later gevolg maar tog ook sedert 2002 ‘n merkbare versnelling in kapitaalbesteding getoon.

Investment Spending 

 

‘n Verskeidenheid faktore het bygedra tot hierdie tendens: nuwe sakegeleenthede, groter mededingendheid, ‘n oorwegend sakevriendelike en redelik voorspelbare beleidsomgewing tot 2007, en ‘n verlaging in die koste van kapitaal in reaksie op laer inflasie en die konsolidering van die staat se finansiële posisie. Maatreëls om die transformasie van die ekonomie te bevorder, byvoorbeeld swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en strenger arbeidswetgewing, is aanvaar as noodsaaklik vir stabiliteit en in sakemodelle verreken, ten spyte daarvan dat dit die koste om sake te doen verhoog het.

‘n Derde opvallende verskynsel die afgelope 20 jaar is die verskuiwings in die relatiewe belangrikheid van verskillende ekonomiese sektore en die onderliggende redes hiervoor. Dit toon byvoorbeeld die verskil wat nuwe bedrywe kan maak, met die selfoonbedryf wat bygedra het tot ‘n toename in die vervoer- en kommunikasiesektor se bydrae tot BBP van 6,7% in 1993 tot 10,1% in 2012.

Dit toon ook hoe belangrik mededingendheid is: Die finansiële, eiendoms- en sakedienstesektor, wat herhaaldelik hoog aangeslaan word in vergelykings van internasionale mededingendheid, het sy aandeel van 17,2% in 1993 tot 24% in 2012 vergroot. Dit is ook die sektor wat moontlik die meeste by tegnologiese ontwikkeling gebaat het en wat die minste deur arbeidsonrus ontwrig is. Die negatiewe kant van die finansiële sektor se goeie prestasie is dat dit deels berus op ‘n skerp toename in skuldvlakke, veral wat betref huishoudings, wat nie herhaalbaar is nie.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam