Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Private Wealth

Back

Email Private Wealth

Media Centre
 

Dit het die afgelope ruk vir politieke ontleders gebruiklik geword om te sê dat SuidAfrika terug is waar hy in 1994 was. Dieselfde kan gesê word wanneer dit by die ekonomie kom: ons begin weer van voor af.

Elkeen van die 5 jaar-tydperke wat in die grafiek aangedui word, is gekenmerk deur gebeure en beleidsreaksies eie aan die tyd. Die tydperk vanaf 1987 tot 1992 (toe ‘n gemiddelde groeikoers van 1,5% per jaar aangeteken is), verteenwoordig die laaste jare van die ou regime toe die groeipotensiaal van die ekonomie deur ‘n streng betalingsbalansbeperking gekniehalter is. Suid-Afrika het nie enige beduidende toegang tot internasionale kapitaal gehad nie en moes groei demp om ‘n oorskot op die lopende rekening van die betalingsbalans te handhaaf.

Dit was ook die stadium toe die werking van die ekonomie deur die strukturele beperkings van apartheid gekortwiek is. Dit is merkwaardig dat die ekonomie in hierdie tydperk ‘n positiewe gemiddelde groeikoers kon aanteken. (In 1990 en 1991 was daar wel negatiewe groei, deels as gevolg van ‘n kwaai droogte, wat tot in 1992 voortgeduur het.)

Gedurende die tydperk vanaf 1992 tot 1996 (gemiddelde groei 1,9% per jaar) het die prestasie van die ekonomie begin verbeter namate die beperkings van die ou regime afgeskud is. Wat belangrik is, is dat die herintegrasie van die SuidAfrikaanse ekonomie en finansiële stelsel by die internasionale ekonomie gedurende hierdie tydperk ‘n aanvang geneem het. Toegang tot buitelandse kapitaal het geleidelik verbeter en die betalingsbalansbeperking het minder straf geword. Die ekonomie het nog met die laaste uitwerkings van die droogte te kampe gehad, maar belangriker nog was dat dit die uitdagings van internasionale mededinging die hoof moes bied omdat beskerming en isolasie plek gemaak het vir groter openheid.

Die tydperk vanaf 1997 tot 2001 (gemiddelde groei 2,5% per jaar) het die les tuisgebring dat groter toegang tot internasionale kapitaal groter blootstelling aan die wisselvalligheid van internasionale kapitaalvloeie meebring

Ekonomiese Groei 1987-2016: 5 jaar-gemiddeldes

Suid-Afrika het toe so pas die strategie vir Groei, Werkverskaffing en Herverdeling (GEAR) aangeneem – sy eie weergawe van die heersende Washington Consensus, waarvan die sukses onder meer afgehang het van jaarlikse kapitaalinvloeie van ten minste 4% van BBP. Die finansiële krisis in opkomende markte wat in 1996 in Asië begin, in 1998 na Rusland en in 1999 na Brasilië oorgespoel het, het ‘n nuwe konsep, naamlik aansteeklikheid (“contagion”), tot die woordeskat van ekonomiese ontleders toegevoeg aangesien Suid-Afrika ook by die internasionale vlug uit die bateklas betrek is.

GEAR het gepaardgegaan met taamlik optimistiese ekonometriese projeksies om dit aantrekliker te maak. Ongelukkig is die onderliggende aannames by die projeksies, insluitend dat die voorgestelde hervormings as ‘n geheel geïmplementeer moes word, nie voldoende beklemtoon nie en het dit onrealistiese verwagtinge oor die meriete daarvan geskep. Die gevolg was dat toe sake (soos te verwagte was) nie verloop het soos voorsien is nie, GEAR gou in onguns geraak het en die implementering daarvan gestaak is.

Vanaf 2002 tot 2006 (gemiddelde groei 4,4% per jaar) is Suid-Afrika meegesleur deur ‘n lewenskragtige internasionale ekonomie, veral die sogenaamde “supersiklus” in grondstowwe wat deur ‘n bloeiende Chinese ekonomie veroorsaak is. Dit was maklik om kapitaal in die hande te kry en die randwisselkoers het meer versterk as wat die meeste mense verwag het nadat dit laat in 2001 aan die volle mag van internasionale spekulasie onderwerp is.

Dit was gedurende hierdie tydperk dat GEAR van die toneel verdwyn het (alhoewel dit nooit ten volle geïmplementeer is nie) en vervang is met sprake van Suid-Afrika as ‘n ontwikkelingstaat, aangemoedig deur die sukses van Asiatiese ontwikkelingstate. Maar soos ek toe daarop gewys het, as Suid-Afrika inderdaad ‘n ontwikkelingstaat was, was dit nader aan die sosiaal-demokratiese soort, à la Frankryk.

Die Inisiatief vir Versnelde en Inkusiewe Groei vir Suid-Afrika (ASGISA) is terselfdertyd met die hulp van internasionale kenners geformuleer. Dit het gefokus op 6 beperkings wat die ekonomie gekniehalter het, en ‘n volgehoue groeikoers van 6% per jaar is voorsien. Met die koms van die Zuma-administrasie is ASGISA egter sonder omhaal geskrap.

Die internasionale finansiële krisis van 2007/08 en die nasleep daarvan het saamgeval met die administrasieverandering in Suid-Afrika. Die gevolg was dat die formulering van Suid-Afrika se ekonomiese beleid koersloos gelaat is op ‘n tydstip toe slim denke en doeltreffende implementering nodig was. ‘n Nuwe Nasionale Ontwikkelingsplan is saamgestel maar het dieselde weg as GEAR en ASGISA gegaan.

Die simplistiese Nuwe Groeipad-strategie wat voortgevloei het uit die ewe nuwe Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en die Departement van Handel en Nywerheid se ideologies versterkte entoesiasme vir nywerheidsbeleid, wat in opeenvolgende Nywerheidsbeleid-aksieplanne beliggaam is, kon ook nie die ekonomie uit sy insinking lig nie.

In die tydperk van 2007 tot 2011 (gemiddelde groei 2,7% per jaar) was daar dus ‘n onwelkome negatiewe verandering in Suid-Afrika se groeiprestasie, wat in die volgende 5 jaar vanaf 2012 tot 2016 (gemiddelde groei 1,6% per jaar) verdere momentum gekry en ons teruggebring het na die soort groei wat in die laaste jare van apartheid ervaar is. Alhoewel dit gewild (en gedeeltelik waar is) om die lotgevalle van die Suid-Afrikaanse ekonomie in hierdie tydperk aan internasionale toestande toe te skryf, is die hoofsaak dat ekonomiese beleid eers van koers verander en toe in ’n vakuum beland het, aangesien beleidvormers nie hul gesamentlike oog op die bal gehou het nie.

Die feit is dat toegang tot internasionale kapitaal om dieselfde rede as voor 1994 weereens die Achilleshiel van die ekonomie geword het, alhoewel in ‘n ander gedaante – ‘n gebrek aan vertroue in Suid-Afrika se toekoms.

Wat kan ons uit die ervaring van die afgelope 30 jaar leer?

Eerstens vaar die Suid-Afrikaanse ekonomie net goed wanneer die internasionale ekonomie goed presteer. Dit het nie juis enige interne groeidinamika nie, wat ‘n aanduiding is van die swak gehalte van sy mensekapitaal.

Tweedens het opeenvolgende Suid-Afrikaanse regerings ‘n bewonderenswaardige vermoë getoon om die oorsake van die ekonomie se probleme te ontleed en omvattende planne te ontwikkel om dit reg te stel. Ongelukkig het hulle ook ‘n ernstige gebrek aan kapitasiteit getoon om sodanige planne te implementeer en geduldig te wag tot dit vrugte afwerp.

Derdens word gereeld erken dat die Suid-Afrikaanse ekonomie deur ‘n oorvloed strukturele beperkings gekniehalter word. Die politieke wil om kritieke strukturele verandering deur te voer, ontbreek egter. Strukturele verandering is ook nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie – ons lewe in ‘n dinamiese wêreld wat voortdurende aanpassing vereis. Ek is bevrees dat Suid-Afrika al hoe verder agterraak namate die wêreld ons verbysteek.

En so bevind Suid-Afrika hom met groei van minder as 1% in 2017, en min hoop dat sake binnekort beduidend sal verbeter. Is ‘n nuwe plan/strategie nodig om uit hierdie situasie te ontsnap?

Ek dink nie so nie. Om mee te begin, sal dit voldoende wees om die NOP, en selfs GEAR en ASGISA, af te stof, dit by te werk deur kennis te neem van die wêreld waarin ons ons vandag bevind, die beste elemente daarvan te kombineer en te IMPLEMENTEER. Maar dit is net die begin en Suid-Afrika sal aan die wêreld moet bewys dat hy kan bybly.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam