Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Private Wealth

Back

Email Private Wealth

Media Centre
 

Internasionale politiek

Dit is geruime tyd reeds hoog in die mode om te verwys na die skepping van ‘n nuwe multipolêre wêreldorde ter erkenning van die groeiende internasionale invloed van China (en meer algemeen Asië) as gevolg van sy groter wordende ekonomiese mag. Ons het nou ook te make met die waarskynlike rehabilitasie van Putin se Rusland en sy/die land se status in die wêreld, alhoewel dit onbegryplik is hoe ‘n opkomendemarkland wat nie eens onder die top 10 is wat betref sy aandeel (oorheers deur olie en gas) in wêreld-BBP nie, en in rangorde ná onder andere Indië, Brasilië en Suid-Korea volg, toegelaat moet word om ‘n dominante plek op die wêreldverhoog in te neem. ’n Sterker saak kan uitgemaak word dat Indië bestem is om ‘n al hoe belangriker rol in die toekomstige wêreldorde te speel.

Die keersy is natuurlik die kwyning (en selfs aktiewe onttrekking) van die Weste en die vermindering van sy invloed, wat maar onlangs begin het en waarskynlik nog lank sal voortduur. Die drie bastions van Westerse mag en invloed (die VSA, Europa en die VK) trek hul almal om verskillende redes terug: die VSA wend hom uit eie keuse inwaarts, Europa sukkel om as ‘n samehangende eenheid te oorleef, en die VK het verkies om sy status in die wêreld te verklein (alhoewel hy steeds vasklou aan groot illusies oor sy invloed en mag).

Daar word verklaar dat die dae van die bevordering van “regimeverandering” (soos byvoorbeeld in Irak en Libië) verby is, wat ook maar goed is in die lig van die onstabiele politieke leemtes wat deur vorige avonture geskep is. Die Weste se bevordering van liberale demokratiese waardes deur middel van sogenaamde “sagte mag” word skynbaar ook laat vaar ten gunste van die aanvaarding van ander lande se vrye keuse van politieke stelsels – ‘n tipiese postmoderne siening, alhoewel ietwat laat.

Die gevolg is die agteruitgang van internasionale instellings (ook op ekonomiese gebied) wat ontwerp, geskep en hoofsaaklik deur die Weste ondersteun is, veral in die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog, en op Westerse waardes en beginsels gegrond is. Hoe internasionale instellings in die toekoms gaan ontwikkel, is onseker, en net die tyd sal leer of ons inderdaad na ‘n harmonieuse multipolêre wêreldorde sal beweeg. Party mense is reeds op die uitkyk na ‘n nuwe internasionale hegemoon om die VSA te vervang, en vir alle praktiese doeleindes lyk China na die enigste potensiële kandidaat. Of China vir so ‘n rol kwalifiseer, en sy aspirasies om so ‘n rol aan te neem, is egter onseker.

Nasionale politiek

Daar is ook groot veranderinge op nasionale politieke vlak. Drie magte is oënskynlik aan die werk, alhoewel hulle vervleg is en dit moeilik is om hulle van mekaar te skei.

In die eerste plek sien ons die opkoms van illiberale demokrasie en die wettiging van dominante-/enkelpartypolitiek. Bevolkings/kiesers is skynbaar gewillig om, in ruil vir resultate, outoritarisme en onverdraagsaamheid teenoor opposisie, te aanvaar. Hulle deel dikwels die ideale wat deur leiers verkondig word en is gewillig om die leiers se persoonlike agendas deur die vingers te sien.

Die tweede verskynsel is die ooreenstemmende opkoms van populistiese nasionalisme wêreldwyd, selfs op onverwagte plekke. Alhoewel die opkoms van nasionalisme skynbaar grotendeels kultuurgedrewe is, met lande wat vasbeslote is om hul eie historiese kultuur teen buitelandse invloed te beskerm (vandaar die weerstand teen immigrasie), is daar ook ekonomiese nasionalisme (“buitelanders neem ons werk af”).

Populistiese bewegings word gedryf deur ‘n weerstand teen elites, wat geag word ‘n orde te geskep het wat net hulle ten koste van al die ander bevoordeel. Die menings van “kenners” (insluitend ekonome!) wat op oënskynlik arrogante wyse aanspraak maak op superioriteit weens hul kennis en denkwyse, word verwerp sonder dat te veel oorweging geskenk word aan wat dit moet vervang.

Die derde verskynsel is die opkoms van personalisme in die politiek, waar die politieke lewe van ‘n land deur ‘n bepaalde sterk individu oorheers word. Daar is talle voorbeelde hiervan oor die wêreld heen: Putin (Rusland), Erdogan (Turkye), Deterte (die Filippyne), Orbán (Hongarye), en selfs Xi Jinping (China) wat vir homself die meeste mag toegeëien het van al die Chinese leiers sedert MaoTse-tung. Sommige sal Donald Trump (VSA) insluit, alhoewel hy deur meer konstitusionele wigte en teenwigte ingeperk word as die ander kandidate.

Die gevolg is ‘n toename in outoritarisme ook in hoe die ekonomie bedryf word, insluitend die bepaling van ekonomiese beleid, met ‘n groter rol vir die regering in die ekonomie. Die staat word verder dikwels tot voordeel van die leier en sy groep volgelinge gebruik.

‘n Belangrike vraag wat in die komende jare beantwoord sal moet word, is of illiberale demokrasie op nasionale vlak versoenbaar is met ‘n liberale internasionale orde.

Internasionale politieke ekonomie

Die versoeking is groot om tot die gevolgtrekking te kom dat neoliberalisme met sy voorkeur vir vrye markte en die beperking van die rol van die staat met die internasionale finansiële krisis in 2007/08 tot ‘n einde gekom het. Die krisis het die tekortkominge van die vryemark-ekonomie uitgewys, en die deregulering van die finansiële sektor wat in die tagtigerjare ‘n aanvang geneem het, is algemeen beskou as een van die hoofoorsake van die amperse ineenstorting van die finansiële stelsel in die Weste. Die oplossing van die krisis en die stabilisering van die finansiële stelsel het regeringsingryping op ‘n ongekende skaal genoodsaak en is gevolg deur wydgerigte strenger regulering, veral in die banksektor.

Die antwoord is egter nie so eenvoudig nie. Daar is ‘n sterk denkrigting dat die hervorming van die banksektor nie ver genoeg gevoer is nie en dat die gevaar van ‘n ewe groot krisis in die toekoms steeds bestaan1. Die mening is dat nie voldoende aandag gegee is aan die probleem van “te groot om te misluk” nie en dat die kwessie van hulp deur die staat vs die betrekking van aandeelhouers en beleggers nog nie opgelos is nie. Die gevaar van ‘n toekomstige krisis wat verdere hulp van die staat kan vereis, bly dus ‘n moontlikheid.

Die Trump-administrasie se voorneme om die Dodd-Franks-wet (die ikoniese regulatoriese reaksie op die finansiële krisis) ten minste gedeeltelik te herroep en die waarskynlikheid dat die VK slapper regulering as ‘n bedingingsmiddel kan gebruik in sy na-Brexit-stryd om Londen se status as ‘n internasionale finansiële sentrum te beskerm, veral teen sy Europese mededingers, dui ook in die teenoorgestelde rigting van die einde van die neoliberale orde.

Dit is nogtans waarskynlik waar dat in die oë van die meeste mense oor die wêreld heen die neoliberale orde inderdaad geëindig het en dat hulle van die staat verwag om ‘n groter rol te speel om die wanbalanse wat dit meegebring het uit die weg te ruim. Die Trump-administrasie se standpunt ten gunste van groter handelsbeskerming en ‘n aktiewe nywerheidsbeleid wek in elk geval twyfel oor of hulle ideologies daartoe verbind is om die neoliberale saak te bevorder.

Die einde van die neoliberale orde gaan hand aan hand met die einde van die neiging na die finansialisering van die ekonomie sedert die tagtigerjare. Daar is steeds groot teenstand teen die oorheersende rol wat suiwer finansiële belange by ekonomiese besluitneming speel (byvoorbeeld die beskuldiging dat finansiële belange verantwoordelik is vir die verskuiwing na sogenaamde “short-termerism” wat korporatiewe investering en dus groei en werkskepping belemmer). Die mening dat die finansiële sektor te groot geword het in vergelyking met die res van die ekonomie (soos aangetoon deur die styging in sy bydrae tot BBP en sy deel van korporatiewe winste) en dat dit tot groter voordeel van die reële ekonomie moet wees, bestaan steeds.

Die weerstand teen finansialisering maak die agtergrond uit vir die kritiek dat vryemarkinstellings soos (Westerse) kredietgraderingsagentskappe ‘n te groot rol by die toedeling van kapitaal wêreldwyd speel en spesifiek dat hulle die soewereiniteit van die regerings wie se skuld hulle gradeer, ondermyn. Die kritiek neem oor die algemeen nie die feit in ag nie dat kredietgraderingsagentskappe besighede is wat poog om te voldoen aan beleggers se aandrang op inligting oor die relatiewe riskantheid van verskillende beleggingsgeleenthede in antwoord op die klassieke probleem van asimmetriese inligting. Dit ignoreer ook die feit dat kredietgraderingsagentskappe selde op eie inisiatief graderings doen en dat dit normaalweg die uitreikers van effekte is wat ’n gradering versoek ten einde toegang tot die beskikbare kapitaal te verkry.

Hulle neem skynbaar ook aan dat nuwe nie-Westerse kredietgraderingsagentskappe tot ander gevolgtrekkings (wat ‘n ander metode van risiko-evaluering sal vereis) ten gunste van skulduitreikers sal kom en dat beleggers sodanige graderings as geldig sal aanvaar (en die ou probleem van groot belemmeringe tot toetrede in die kredietgraderingsbedryf weens reputasievereistes, ignoreer). Die grootste deel van die beskikbare internasionale kapitaal sal in elk geval nog vir lank in Westerse hande gekonsentreer wees.

Die tweede groot vraag is natuurlik hoe ver globalisering omgekeer sal word deur die Trump-administrasie se neomerkantilistiese weerstand teen handelstekorte en hul afkeer van multilaterale handelsooreenkomste. Hul beheptheid met die herindustrialisasie van Amerika op ‘n tydstip wat die bydrae van vervaardiging tot ekonomiese bedrywigheid wêreldwyd afneem en die sektor groot tegnologiese veranderinge ondergaan wat werkgeleenthede tot niet maak, is nie weldeurdag nie (alhoewel die VSA wat dit betref natuurlik nie alleen is nie). Die vraag is of dit ’n lewensvatbare benadering is gegewe dat die Vierde Industriële Revolusie reeds met ons is.

Hoe ver die wêreld sal gaan op die weg van proteksionisme, hang af van die mate waarin die res van die wêreld die VSA se voorbeeld volg. Vroeë aanduidings is dat daar min entoesiasme is om Trump na die onbekende te volg en die VSA kan dalk vind dat hy sy eie saak beduiwel het deur ‘n anti-globaliseringshouding in te neem. ‘n Drastiese verandering in handelsbeleid deur die VSA sal nogtans ontwrigtend wees net omdat dit die grootste ekonomie in die wêreld is.

Indien die VSA se begeerte om VSA maatskappye te dwing om hulle aan internasionale voorsieningskettings te ontrek, suksesvol is, sal hulle verloorders in die internasionale mededingingswedloop2 wees. Wat die VSA in invoervervanging wen, kan moontlik oorskry word deur sy verliese aan die uitvoerkant. VSA multinasionale maatskappye sal dalk hul sakemodelle moet aanpas om die beperkings wat deur die Trump-administrasie gehef word, vry te spring wanner dit by die bediening van hulle nie-Amerikaanse kliënte kom.

Die derde vraag is hoe die heersende sterk weerstand teen toenemende ongelykheid in inkomste en welvaart gaan verloop, veral wat betref topinkomstes en bestuursvergoeding. Die verskil tussen gelyke geleenthede en gelyke uitkomste word vertroebel deur die algemene persepsie dat die stelsel onregverdig gemanipuleer word tot voordeel van ‘n uitgesoekte groep individue (die 1%) wat verder ook hul verpligtinge teenoor die gemeenskap versuim, byvoorbeeld deur nie hul regmatige deel van belasting te betaal nie.

Dit is moeilik om te sien hoe die ongelykhede voortspruitend uit die beloning van innovasie en entrepreneurskap (wat meer onmiddellik en dramaties geword het in die eeu van informasietegnologie-vooruitgang) verlig en die dinamiek van die stelsel terselfdertyd behou kan word.

Tegnologiese ontwikkeling en die verskillende maniere waarop dit verskillende groepe mense raak, speel reeds ‘n belangrike rol by toenemende ongelykheid en dit sal voortgaan. Outomatisasie sal verder die verskil tussen die opbrengs vir kapitaal en die opbrengs vir arbeid vergroot. Die innoveerders en die entrepreneurs wat vir die kommersiële benutting van nuwe tegnologieë verantwoordelik is, sal egter die grootste beloning ontvang3.

Gemeenskappe staan voor die uitdaging om die verloorders van verandering te vergoed (uiteraard deur ‘n mate van herverdeling van die inkomste van die wenners) sonder om waardes en insentiewe onnodig te verwring. Dit het onder meer tot gevolg dat die debat oor die meriete van een of ander vorm van basiese inkomstetoelae wat ‘n minimum lewenstandaard aan elke persoon waarborg, as ‘n moontlike oplossing vir die probleem al hoe driftiger raak.

Suid-Afrika se reaksie op ‘n veranderende omgewing

Waar pas Suid-Afrika in hierdie prentjie van ‘n veranderende wêreldorde soos hierbo beskryf?

Eerstens, wat Suid-Afrika se internasionale posisie betref, sal die anti-Westerse houding van die regering minder problematies word as gevolg van die tanende invloed van die Weste. Suid-Afrika se aangetrokkenheid tot illiberale gesagstate (bv. Rusland) sal ook minder kontroversieel word.

Tweedens sal daar minder weerstand teen illiberale nasionale politiek wees, met min vrees van internasionale veroordeling of inmenging. As gevolg van die opkoms van personalisme is Afrika se “Groot Kokkedoor”-verskynsel in politiek ook nie meer so opvallend soos voorheen nie, wat die weerstand daarteen verminder.

Derdens, in die lig van Suid-Afrika se afhanklikheid van eksterne groeibronne, sal ‘n inkrimping in globalisasie tot Suid-Afrika se nadeel wees. Vorige tydperke van bogemiddelde groei was oor die algemeen die gevolg van een of ander internasionale meevaller en in die mate dat ‘n ommeswaai na groter proteksionisme laer groei wêreldwyd tot gevolg sal hê, sal dit Suid-Afrika nadelig raak. Die keersy van ‘n gedwonge groter ewewig in internasionale handelsvloeie sal ‘n groter ewewig in internasionale kapitaalvloeie wees, wat die finansiering van Suid-Afrika se volgehoue tekort op lopende rekening in gevaar kan stel.

Die groeiende beweging na herindustrialisasie, veral in die ontwikkelde wêreld, sal ook Suid-Afrika se eie pogings in dié verband in die wiele ry. Dit sal nie maklik wees om uitvoermarkte te vind nie, en vlak van vraag in die plaaslike mark sal nie genoeg wees om die skaalvoordele te bewerkstellig wat vir internasionale mededingendheid vereis word nie.

Veral die Trump-administrasie se beheptheid met bilaterale handelstekorte en sy verklaarde voorneme om alle handelsooreenkomste uit die oogpunt van “Amerika eerste” te hersien, kan dalk nog by Suid-Afrika kom spook. Alhoewel Suid-Afrika se handelsoorskot met die VSA in 2016 slegs ongeveer $2 miljard beloop het, het ‘n groot deel daarvan bestaan uit motoruitvoere na die VSA (moontlik gemaak deur AGOA), een van die dinge waarvan mnr. Trump by uitstek ‘n afkeer het.

Aan die ander kant bestaan die gevaar dat ‘n toename in proteksionisme wêreldwyd ook ‘n soortgelyke geneigdheid plaaslik kan aanmoedig. Indien dit gebeur, sal dit ‘n stap agteruit wees wat dit nog moeiliker sal maak om die groeipotensiaal van die Suid-Afrikaanse ekonomie te verbeter.

Ten slotte

Ons moenie te gerus wees oor ons gevolgtrekkings nie. Dit sal raadsaam wees om die Amerikaanse politieke analis Francis Fukuyama te onthou wat in 1992 in sy boek, The End of History and the Last Man, die finale oorwinning van liberale demokrasie en die markekonomie aangekondig het. Wat ons nou sien, is presies die ontrafeling van Fukuyama se stelling.

Heel gepas het Bob Dylan dus die laaste woord:

“Come writers and critics
Who prophesize with your pen
And keep your eyes wide
The chance won't come again
And don't speak too soon
For the wheel's still in spin
And there's no tellin’ who that it's namin’
For the loser now will be later to win
Cause the times they are a-changin’.”

1 Kyk byvoorbeeld Timothy F. Geithner: Are We Safe Yet? How to Manage Financial Crises. Foreign Affairs. January/February 2017.
2 Bekende kenner op die gebied van internasionale voorsieningskettings, Richard Baldwin, sê “Globally competitive firms knit together national competitive advantages to make things in the most cost-effective locations. Firms and nations that eschew this new school of mix-and-match competitive advantage struggle to compete with those that have embraced it.” The Great Convergence. Information Technology and the New Globalisation. Harvard University Press. 2016.
3 Klaus Schwab, president van die Wêreld Ekonomiese Forum, is byvoorbeeld van mening dat “in the future, talent, more than capital, will represent the critical factor of production”. The Fourth Industrial Revolution. What it Means and How to Respond. Foreign Affairs. January 2016.
Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam