Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Private Wealth

Back

Email Private Wealth

Media Centre
 

​​​​​​Hou Jou Polisse in Moeilike Tye in Stand

5 September 2018

Met die immer stygende lewenskoste begin al hoe meer Suid-Afrikaners weens die finansiële druk van skerp inflasiestygings noustrop trek.

Daar is ook ’n sterk risiko dat rentekoerse verder sal styg, en stygende uitgawes en veranderings in jou persoonlike omstandighede kan ’n uitwerking hê op jou vermoë om versekeringsdekking te bekostig. Dit is egter baie belangrik om elke uitgawe deeglik te bekyk, om nie uitgawes te besnoei wat eintlik noodsaaklik is nie – soos jou lewensdekking en jou aftreespaarfondse.

Die eerste stap om te verseker dat jy jou versekerings- en spaarprodukte kan behou, is om jou begroting te verstaan. Dit klink miskien na ’n cliché, maar deur ’n maand lank boek te hou van elke sent wat jy bestee – hetsy deur ’n begrotingstoep op jou selfoon te gebruik of ’n ekstra blaadjie in jou beursie te hou – sal jy onnodige uitgawes kan identifiseer. Eers wanneer jy ’n idee het van wat jy bestee, kan jy ’n eerlike begroting begin opstel wat jou sal help om weer beheer oor jou uitgawes te kry.

Jou lewensversekering en spaargeld is eintlik uitgawes met ’n hoë prioriteit.. As jy nie met jou bydraes voortgaan nie, sal dit oor die kort sowel as die lang termyn ’n negatiewe impak hê.

As jy oorweeg om jou versekering te kanselleer wanneer die finansies knyp, is dit belangrik om te onthou dat daar opsies beskikbaar kan wees wat jou sal help om jou polisse voort te sit:

  • Jy kan die voordeelbedrag verminder in plaas van om die dekking te kanselleer. Dit sal jou in staat stel om steeds jou finansiële posisie te beveilig in die geval van siekte of ongeskiktheid, en vir jou geliefdes te sorg indien jy sterf. Hoewel dit miskien nie die ideale situasie is nie, is ’n kleiner dekkingsbedrag beter as niks.
  • Waar van toepassing, kan jou polis moontlik ’n premievakansie-opsie insluit. Jy kan met jou verskaffer in verbinding tree om hierdie opsie na te gaan en dit uit te oefen om oor die kort termyn verligting te kry sonder om jou gesin se behoeftes te benadeel.
  • Leef gesonder: As jy meer as ’n jaar gelede opgehou rook het, kan jy jou versekeraar skakel en ’n hersiening van jou premie aanvra. Rokers betaal ’n hoër tarief, en as jy ophou rook, kan jy moontlik by ’n laer premie baat vind.

Koste styg elke jaar en in die geval van lewensversekering is dit belangrik om te onthou dat sekere lewensgebeurtenisse, soos swak gesondheid of ’n nuwe werk, dit moeilik kan maak om dekking teen dieselfde premie te bekom wanneer jy jou polis probeer hernu nadat jy dit gekanselleer het.

Wat jou spaargeld betref, kan die versoeking groot wees om jou planne heeltemal te kanselleer, maar selfs in hierdie geval sal jy miskien korttermyn-verligting kan kry deur jou bydraes tot ’n effektetrustportefeulje tydelik te staak. En waar van toepassing, kan jy tydelik ophou om premies op jou uitkeerpolisse of uittree-annuïteite te betaal (maak net eers seker dat jy nie boetes moet betaal as jy tot so ’n stap oorgaan nie).

Gesels eers met ’n finansiële adviseur voordat jy veranderings maak, sodat ’n deeglike risiko-ontleding gedoen kan word om te bepaal wat die risiko’s is, wat gedek moet word, en of jy die risiko’s kan dra, voordat versekeringsdekking en spaargeld verminder word. Hoewel versekering gewoonlik teensinnig gekoop word, koop jy eintlik beskerming teen iets wat jy hoop nie sal gebeur nie. Daarom is dit belangrik om te onthou dat indien jy vandag afstand doen van hierdie beskerming, dit môre baie erger probleme kan veroorsaak.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam